Quantcast
Channel: Watkykjy, huh?
Viewing all articles
Browse latest Browse all 3127

Song vir Katryn is weer terug op die kassie en ons chat met Valiant Swart oor sy hoofrol destyds.

$
0
0

Song vir Katryn het in 2003 vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse TV verskyn – dieselfde jaar as wat ek besluit het om in Nigerië te gaan graft vir ‘n periode van vier(!) jaar lank. Destyds was DStv reeds in hierdie Wes-Afrika land beskikbaar, maar die bouquet het effens verskil van wat ons gewoond was in Suid-Afrika. KykNet was byvoorbeeld nie ‘n opsie nie – vir obvious redes. Dit het my nie vreeslik gepla nie, maar toe ek uitvind dat Valiant Swart in ‘n TV-reeks te siene is in die hoofrol nogal, moes ek ‘n fokken plan maak. 

‘n Vriendin in Pretoria het gereël met ‘n ander gemeenskaplike tjommie se ouers in Rustenburg om die episodes vir ons op VHS op te neem. So het het die VHS tapes hulle pad een vir een Pretoria toe gevind en my vriendin was die dood voor die oë gesweer as sy dit sonder my kyk. Sy moes wag! So het ons dan uiteindelik Song Vir Katryn ge-binge watch met stywe doppe, elke drie maande wanneer ek vir ‘n periode van twee weke lank terug huis toe gekom het vir vakansie en algemene slegwees. Later het dieselfde vriendin ‘n DStv PVR decoder aangeskaf en self reeks twee vir ons ge-tape. Dieselfde reëls het gegeld – jy fokken kyk nie sonder my nie!

Nou, 16 jaar later, sien ek dat Song Vir Katryn op Showmax beskikbaar is! Ek het besluit om die man uit wie se pen “Sonvanger” gekom het, vir die eerste keer bietjie oor hierdie TV-reeks uit te vra vir Watkykjy…
In Song vir Katryn is jy ‘n dokter. Watter tipe dokter sal jy op ‘n Kulula-vlug wees as iemand sy bors gryp, ‘n hartie kap en ‘n fan point na ou “Jinx” toe wanneer die lugwaardin paniekerig skreeu “Is daar n dokter op hierdie vlug!?”
Ek vlieg nie met Kulula nie, hulle tjaarts my vir my kitare. Maar oukei, kom ons se dit gebeur op ‘n Safair vlug. Ek is useless met noodhulp, so ek sal seker maar terug skreeu “Sorry, no speaka da English!” 

Dit kan werk, ja. In Song vir Katryn is jy ook ‘n biker. Hoe vêr kon jy wheelie? Kan jy ooit nog bike ry?
Nee, dit was alles oëverblindery. Ek kan bike ry, maar geensins baie goed nie – en ek het nie ‘n liksens vir die ding nie. So, ek het ‘n stand-in gehad. ‘n Dubbelganger. Hy was ‘n regte biker en hy’t gery vir die ‘Bad Apples’. Sy naam was Fritz. Ek het hom ‘Me’ genoem. 

Haha! “Kom hier, ek!” Ek neem aan jy word nog steeds in winkelsentrums oorval met ‘n “Haai, kyk, dis Jinx!” al is dit about 17 jaar later. Hoe gereeld gebeur dit en hoe maak ‘n man? Enige van hierdie insidente wat vir jou uitstaan?
Jip, dit gebeur nog steeds. Kan jy glo? Ek probeer maar ‘n neutrale uitdrukking handhaaf, maar sjoe… Mense kan nogal staar, onbeskaamd. En vrypostig wees. Tannies wat vra of ‘Dokter’ hulle sal ondersoek.

Eish. Kom ons help gou almal reg: fans skree amper by elkeen van jou gigs die versoek uit vir ‘Song Vir Katryn’. Daar is glad nie ‘n Valiant Swart song genaamd ‘Song Vir Katryn’ nie. Dit moet jou seker effens irriteer? Na watter song verwys die mense, en speel jy dit dan maar? Of kap jy gou so 15 sekondes van die TV-reeks se intro? Ek meen, daai TV intro is totes ‘n electric kitaar-vibe en jy sit gewoonlik met jou acoustic. Hoe maak ‘n man?
Die temalied se naam is ‘Verdwyn’. Ek speel so ‘n verkorte akoestiese weergawe daarvan, wat heel goed werk. Wat dit tricky maak is dat die posisies op die kitaar se nek waar onderskeidelik die riff en die akkoorde gespeel word, nogal ver uitmekaar is. As ek nog ‘n kitaarspeler by my het, loop hy lekker. Ek speel steeds by my shows ‘n paar Katryn-liedjies; ‘Jakarandastrate’, ‘Liefde by die dam’, ensovoorts.

Ek gaan jou nou hopelik vasvra: In Song vir Katryn is jou karakter se nom de plume “Jinx”. Jou karakter se regte naam word egter in episode 1 van seisoen 1 genoem. In fact, dit is die eerste drie woorde waarmee die reeks Song vir Katryn begin. Kan jy jou karakter se regte naam onthou? Ek soek die eerste naam, die tweede naam en die van. Wow! Dis ‘n goeie een! ‘Johannes Jacobus Bruwer’ dalk? Ek onthou ek was ‘Johan Bruwer’ – dis dit, man!

Close, but no guitar! Dit was Johannes Petrus Bruwer. Song Vir Katryn het ‘n totaal van twee seisoene met dertien episodes elk en episodelengtes beloop ongeveer 50 minute elk. Dis nogal ‘n stewige stelletjie kykwerk, maar dit klink ook na baie werk agter die skerms. Hoe hectic was die filming skedule gewees?
Vyf dae ‘n week, van 07h00 soggens tot so 17h00 saans, vir so twee, drie maande per reeks. En dan was daar heelwat night shoots ook. Ons het darem naweke af gehad. Dit was hectic vir my; ek is glad nie sulke dinge gewoond nie. Ek slaap laat en jol saans, dis my ‘roetine’. Ek was gelukkig om nie ‘n probleem te hê om my woorde te onthou nie. Dit het baie gehelp. Daar is niks wat die gemoedere so laat vlam vat soos ‘n onvoorbereide speler wat almal se tyd mors nie.  

Tyd is geld, pappie! Het hierdie reeks bietjie met jou “regte” werk en jou persoonlike lewe geneuk, of het die inkomste van die reeks die gigs waarop jy uitgemis het, regverdig?
Daar was maar lang tye weg van die huis af, en ook van my gewone circuit waar ek normaalweg deurlopend opgetree het. Maar dit was absoluut die moeite werd, op alle vlakke. 

No offense, maar ek kon nogal sien dat jy veral in die eerste paar episodes van reeks een gesukkel het met die acting ding. Dit was iets nuuts vir jou. Later het dit soos stroop geloop. Wie het jou so mooi reg gehelp? Was dit Therese Benade (Katryn)?
Dit was maar ‘diepkant’-vibes daar aan die begin. Ek het nie ‘n clue gehad nie. Trouens, toe Jan Scholtz my die eerste keer bel en my die rol aanbied, het ek hom gevra of ek nie maar liewer net die klankbaan kan doen nie, maar hy het my oortuig ek sal orraait wees met die acting ding. So – ja, ek het die ander akteurs se werkswyses fyn dopgehou en ook baie aanmoediging en advies van hulle gekry. Therese was baie behulpsaam en professioneel. Sy is ‘n absolute natural. Verder het ek maar my eie ding opgemaak soos ek aangegaan het en vir Jinx en die ander karakters ‘leer ken’ het.

Jy praat nou van Jan Scholtz. Hy was ‘n moerse figuur in die SA TV en filmbedryf en was verantwoordelik vir van die beste TV reekse in Afrikaans soos Triptiek, Die Sonkring II, Cul de sac,  Skoppensboer, Arsenaal en natuurlik Song Vir Katryn. Dan was daar ook ‘n string movies uit sy stal gewees. Hoe was dit om saam met so legend te werk? Watter tipe mens was Jan Scholtz?
Jan was ‘n reus in die bedryf. Hy was ‘n volslae legend. Hy het van menige jong ‘hopefuls’  huishoudelike name gemaak. Jan was ‘n groot, lang man met ‘n diep, welluidende stem, wat van geen mens kak gevat het nie, maar hy het ook ‘n erg ondeunde streep gehad wat tot vele skreeusnaakse situasies gelei het. Sy stories het getuig van ‘n fyn waarnemingsvermoe en ‘n diepe insig in die human condition. 

What a guy! Ek dink die show was nogal rewolusionêr vir sy tyd gewees om temas soos dwelmmisbruik, VIGS, tronkstraf, pornografie op die Internet en kinderprostitusie te cover. Veral in Afrikaans. Wat is jou take hierop? Was dit hectic? Was dit moeilik?
Dit was inderdaad rewolusioner, wat dit eintlik makliker gemaak om oortuigend die rolle te vertolk. Want dit het gegaan oor regte issues en dinge wat oral om mens afspeel. Niks is ‘versuiker’ nie. Ons het byvoorbeeld gevloek soos regte mense – ‘n eerste vir Afrikaanse televisie. Baie mense kon 100% relate tot die situasies en die karakters – dit was baie ‘real’; nie net ‘n simpel klugspel met potsierlike, tweedimensionele karakters nie. 

Ek stem saam. As jy terugdink, wat mis jy die heel meeste van die show? Sal jy weer so iets aanpak?
Daai gevoel dat jy vir ‘n paar maande in ‘n parallel universe rondhang, waar magic en make believe aan die orde van die dag is. En die spangees onder die cast en crew. Ek sal dit weer doen, dink ek. Die klankbaan-deel, beslis! Dis net steeds vir my nogal moeilik om vir ‘n baas te werk. Gelukkig was Jan ‘n lekker dude.

Ek hoor jou oor die baas-ding… Ek weet jy geniet ook ‘n stukkie streaming wanneer jy relax by die huis. Wat is jou gunsteling programme om saam met jou dogter en jou vrou te kyk?
Loshande ons gunsteling om saam te kyk, is Big Bang Theory! Dit is absoluut briljant en kaksnaaks! Ons neig maar na die komiese. Ek wonder nogal of ons Song vir Katryn weer gaan kyk? Ek skat so. Ek kan my ‘n hele klomp cringe-oomblikke voorstel. En dit sal interessant wees om te sien of die klankbaan die toets van die tyd deurstaan. Die klankbaan-album, terloops, het Goue Status behaal – ‘n eerste vir my.

En jy maak nog steeds musiek? Voel jy nie al ‘n bietjie soos ‘n oor-die-muur ou fokken has-been nie? I mean, jy raak nou lekker fokken oud, ou pellie! 
Ek maak nog al die pad musiek, dis maar my lewe. Ek travel ontsettend baie, die hele land vol. Soms ook in die buiteland, as die geleentheid my te beurt val. Ek is nogal gereeld in Pretoria, waar die musiektoneel lekker lewendig is. Ek tree op Donderdag 12 September op by Die Blou Hond Teater (Casa Toscana) in Lynnwood Manor. Bespreek solank betyds ‘n tafel by 012 348 8820 en kom join ons!

Hoe moet mense maak om jou te book virre vyftigste verjaarsdag, ‘n corporate gig by hulle graft, ‘n party of ‘n boer mitzvah?
As mense my wil bespreek vir ‘n optrede: kontak gerus my agent, Jaco Ferreira by 072 744 9612!


There you have it!  Jy kan beide reekse van Song vir Katryn op Showmax kokkenodge. As jy nie nog nie reeds ’n account het nie, kan jy aansluit vir ’n gratis proeftydperk van 14 dae. Daarna kos toegang tot wavragte van plaaslike en internasionale reekse, rolprente en dokumentêre programme net R99 per maand.  As jy ’n DStv-intekenaar is, is Showmax ingesluit in jou intekening. Intekenare van DStv Compact en Compact Plus kan Showmax by hul intekening voeg vir slegs 49 skille per maand!


Viewing all articles
Browse latest Browse all 3127