1. Wanneer laas het jy ‘n Lotto-kaartjie gekoop? Ek vermoed Brian Molefe gaan hierdie komende naweek ‘n hele paar koop. Dis nou na die aankondiging deur ‘n hof dat hy die R11 miljoen wat hy reeds van ‘n beplande R30 miljoen Eskom-pensioen ontvang het, moet terugbetaal. Nou kyk, ek weet nie hoeveel lekkerkry-oomblikke ek op geregtig is in een week nie, maar hierdie een gaan ek vat. Want al wankel Eskom, gee hierdie beslissing my genoeg krag om so paar dae lank Wêla Kêpela te sing.
2. Al gehoor van die Singh-boeties wat so hoog op is by einste Eskom? Wel daar’s Anoj Singh, geskorste finansiële hoof van Eskom, asook sy 3 boeties, SelfbeheerSingh, VermorSingh en VervalSingh. Maar na hierdie week se parlementêre ondersoek na staatskaping en korrupsie by Eskom, wil dit lyk of hulle dalk een en dieselfde persoon kan wees. Vorige Minister van Finansies, Pravin Gordhan, se vrae aan Anoj, het bewys hy het duidelik geen selfbeheersing gehad nie, dat daar grootskaalse vermorsing van geld was en dat Anoj se weergawe van gebeure bes moontlik ‘n reuse vervalsing is.
3. As jy rugby-afrigter wil wees van ‘n nasionale span, moet jy so waar as wragtag hare op jou tande hê. Of dan ten minste op jou bolip. Dit het hierdie week aan die lig gekom dat ou Snorre homself die kans staan om moontlik die afrigter van Zimbabwe se rugbyspan te word. Jip, daai Peter de Villiers. Jip, daai Zimbabwe. Ten minste as hy die werk kry, kan ons weer uitsien na aanhalingsjuweeltjies soos net hy dit kan doen. “Nay, a win is a win and a loes is a loes, but if you win, you loes your fear of winning like a white elephant in the room parked outside FW de Klerk’s rose bush.” Kê?
4. Legendariese Suid-Afrikaanse musikant, Hugh Masekela, is hierdie week oorlede. Gulde geleentheid vir voormalige Bafana Bafana speler, Mark Fish, om sy naam krater te maak deur ‘n RIP-boodskappie op Twitter te pos by ‘n foto van hom en die legendariese musikant. Nie Masekela nie, mind you. Sipho Hotstix Mabuse wat nog springlewendig is. ‘n Geval van een harde sokkerbal teen die kop te veel? Bra kak fout om te maak rondom Bra Hugh.
5. Almal ken daai gesegde, “The more things change, the more they stay the same.” Vra maar vir Volkswagen wie se “nuwe” Polo hierdie week bekendgestel is op Suid-Afrikaanse bodem. Besig om in die Juanita du Plessis van karre te verander – al haar goed klink dieselfde… alle VWs begin dieselfde lyk – wil dit voorkom of Volkswagen van die luiste designers in die wêreld kan hê. Ja, ek weet mens peuter nie aan ‘n suksesresep nie, maar fokkit, mens moer ook nie net dieselfde goed oor en oor in die lou-oond nie. Natuurlik gaan dit meer verkoop as USN-shakes by ‘n spog rugbyskool, maar saam met dit sal karkapers en diewe hulle handjies genotvol saamvryf. Die Polo is hoeka mos al vir jare bo-aan die lys van karre wat die meeste gesteel word. En vir hoe lank gaan VW nog wegkom met hulle hoë pryse en lyste van opsionele toerusting – climate control, sitplekverwarmers, ruitontwasemer, stuurwiel, wiele, voordeure… ek sweer, niks van die kak is ooit in die koopprys ingesluit nie.